
Liefste VROUWEES vriendin,
Ek kan nie glo ons is al in die 2de week van Januarie 2025 nie!
Ek en JC is baie opgewonde oor hierdie jaar, want ons glo ons hardloop en BEWEEG saam met die hartklop van Jesus vir 2025.
Ons Woord vir 2025 is: GESONDE GESINNE
Hierdie jaar, by Beweeg Kerk Kaap, gaan ons begin met ’n proses van gesond wees. ’n Gesonde gesin in geheel. Gesonde vrouens, gesonde mans en gesonde kinders.
Hierdie is nie ’n vinnige, oornag proses nie, maar gaan ’n leeftyd-proses wees, tot die dag wat Jesus kom. Ons gaan werk aan ’n leefstyl van gesond lewe, van binne na buite.
En ons kan vertrou, net soos Paulus vertrou het, dat:
“Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;” (Fil 1:6)
Dit is ons hoop en begeerte vir elke familie, dat die Heilige Gees in ons en deur ons gesinne werk soos ons gehoorsaam is aan Sy planne en weë.
DIT GAAN JOU KOS! ELKE. LIEWE. DAG.
As ek my liggaam fisies gesond en in ’n goeie toestand wil kry, geld dieselfde prinsiep. Ek kan nie net ’n pil drink, en dan is ek die volgende dag wonderbaarlik verander nie. Dis toewyding, daagliks. Dis opdaag en deurdruk en sweet en moeg raak, maar weer opdaag en aanhou.
Dieselfde geld vir geestelike gesondheid. Dis vroeg opstaan en tyd maak vir God, tyd in Sy Woord spandeer, en as daar kinders is - hulle leer van God, en saam bid as ’n gesin. Dit is goeie dae. En dan is daar dae wat ons te moeg is, te besig is, te geirriteerd is, te kwaad is en voel soos mislukkings.
Dis die dae wat ons moet besef dat ons hierdie proses dag vir dag gaan vat, en dit nie oornag gaan gebeur nie. Dat God se genade nuut is vir ons. ELKE. LIEWE. DAG.
Dat ons weet dat ons gister se mislukkings voor Hom kan bring en Hy ons vergewe en ons nuwe genade het om weer te probeer. Solank ons net opdaag en aanhou, Hom gehoorsaam en Hom volg.
En wanneer ons dit verkeerd kry, dan gaan ons gou wees om jammer te sê, en weer opdaag en aanhou. Ons gaan die genade wat Hy ons gee aanvaar en weer begin. ELKE. LIEWE. DAG.
Daar gaan tye wees wat ons voel ons gaan 3 treë vorentoe en 2 treë terug, solank ons net BEWEEG. ELKE. LIEWE. DAG.
ONS HET NOG NIE GEARRIVEER NIE
My gebed, vir jou vriendin, is dat jy hierdie proses eerlik sal aanpak. En nie sal opgee nie. Sal uitreik as dit moeilik is. Dat jy sal besef dat ons almal besig is met ’n proses, en ons het nie gearriveer nie, en dat ons dit dag vir dag gaan vat. ELKE. LIEWE. DAG. Dat jy jou roeping sal ontdek, en in die seisoen waar jy is, in dit sal leef.
En hierdie is my belofte aan jou, dat ek my roeping ernstig vat. Dat ek weet dat God jou siel aan my toevertrou het in hierdie seisoen, en dat ek alles in my vermoë en met die genade wat aan my toevertroue is gaan doen om jou geestelik gesond te kry. Dat ek saam met jou hard gaan werk aan my eie geestelike gesondheid. Dat ek niks meer van jou sal verwag as wat ek self nog nie regkry nie. Dat ek my beste gaan gee om die beste uit jou uit te kry.
Lief jou!
Jénene
Terwyl ek lees voel dit asof ek in jou sitkamer sit want dit is altyd dit wat uit jou hart kom Jénene- opregte en diep liefde! Dankie vir jou en JC